Dan tree ’n lang, slanke bruinkopvrou na vore. In ’n spierwit rok geklee. Kaalvoet. Stil. In haar hande het sy twee vreemde houtvoorwerpe. Sy gaan hurk op die grond. Die oeroue aarde. Die afwagting is tasbaar. Sy vryf die voorwerpe teenmekaar. ’n Minuut gaan verby. Twee. Drie . . . ’n Rokie. Ons hou ons asems op. Sy blaas versigtig.

Vlamme.

Spontaan klap ons hande. En juig.

Vuur. Gemaak soos ons voorvaders dit gedoen het. En ons voorvaders voor hulle.

Sy steek die hout wat in die groot, ronde drom lê, aan die brand. Rondom die drom is blomme gelê. Die vlamme skiet hoog. En hoop. En liefde. En ’n terugkeer na die aarde. Na eenvoud.

Ek kyk rondom my. Jonges en oues van dae se gesigte is in verwondering. Maar ek sien ook iets anders. Voel iets anders. Iets wat woorde nie kan beskryf nie. ’n Onthou in ons lywe wat ons lankal al vergeet het.

En dis heilig . . .

Nes die Chartres-katedraal se labirint in Frankryk, het hierdie labirint se ontwerp ’n blom in die middel. En elke kroonblaar verteenwoordig ons fisieke en spirituele wêreld: mineraal, plant, dier, mens, engele en die godheid.

Op gevoel kies elkeen ’n kroonblaar om te begin plant. Ek eindig op by mineraal. En dis presies waar ek moet wees.

’n Terugkeer na die basiese. Na my hart. En as ek dit doen, sal ek nooit verdwaal nie.

Reference: https://www.netwerk24.com/ZA/Beeld/By/die-labirint-aan-die-suidpunt-van-afrika-20200313?sfns=mo